Swem in Dooie See goed vir diabete
2011-08-31 10:03
Jerusalem – Slegs 20 minute se ronddryf in die Dooie See kan diabete help om hul bloedsuikervlakke verlaag, het ‘n nuwe Israelse studie bevind.
Navorsers van die Ben Gurion-universiteit en die Soroka-mediese sentrum het die eksperiment uitgevoer.
Na 14 vrywilligers wat aan diabetes ly 20 minute in die Dooie See se waters gedryf het, het hulle bloedsuikervlakke merkwaardig verlaag.
Die vrywilligers het gemiddeld ‘n verlaging van 13.5% kort na hul swem ervaar, het die studie bevind.
‘n Kontrolegroep van ses gesonde vrywilligers het geen verandering in hul bloedsuikervlakke ervaar nie.
Shaul Sukenik, die hoofnavorser van Ben Gurion, het die resultate as “belowend” beskryf.
“As verdere navorsing die bevindinge bevestig, kan diabete wat in die Dooie See swem minder medikasie gebruik,” het hy gesê.
Die bevindinge sal in die volgende uitgawe van die Israelse mediese vereniging se joernaal, HaRefua, gepubliseer word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP