Suur water dreig Jhb
2010-07-22 09:00
Johannesburg – Miljoene liters suur mynwater is besig om onder Johannesburg se oppervlak te styg en kan binne 18 maande in die strate inspoel as dit nie dopgehou word nie, het die parlement se waterwese portefeulje-komitee Woensdag gehoor.
Die suur water is tans sowat 600m onder die stad se oppervlak, maar styg omtrent 0.6 tot 0.9m per dag, het Marius Keet, adjunkdirekteur van watergehaltebestuur, aan parlementslede vertel.
Volgens Keet kan die water “katastrofiese gevolge” dra indien dit nie vroegtydig gestop word nie.
Die aktivis Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, meen die stygende mynwater kan ‘n “enorme bedreiging” wees wat sal vererger indien aksies om dit te stop, verder vertraag word.
Liefferink beskryf dié krisis, in terme van impak, as Suid-Afrika se twee grootste omgewingsprobleem ná aardverwarming.
Teen die spoed wat die water styg, kan die oppervlak binne 18 maande heeltemal oorstroom wees, sê sy.
Volgens Liefferink het die mynwater dieselfde suurheid as asyn of suurlemoensap.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA