‘Superma’s’ ly meeste aan depressie
2011-08-22 13:28
Las Vegas – Ma’s wat na ‘n lang dag op kantoor hulself met ‘n kind op die heup agter die kospotte afsloof is meer geneig om aan depressie te ly as vroue wat dinge laat val waar dit wil.
Navorsers het bevind “superma’s” wat werk en boonop steeds hul huishoudings soos ‘n geoliede masjien laat loop, doen hul geestestoestand skade aan.
Die navorsing is Saterdag voor 'n vergadering van die Amerikaanse Sosiologiese Vereniging in Las Vegas voorgelê.
Die hoofnavorser, Katrina Leupp van die Universiteit van Washington, het gesê vroue wat nie van hulself verwag om die huislewe en die werkslewe seepglad met mekaar te laat oorvleuel nie, het die minste met depressie gesukkel.
“Om te glo vroue kan alles doen het tot depressiewe simptome gelei,” het Leupp gesê. “Vroue wat skepties was oor hul vermoë om werk en die lewe by die huis met mekaar te versoen, het minder simptome ervaar.”
Leupp het 1 600 getroude vroue oor hul lewe by die werk en die huis uitgevra.
“Ironies genoeg het vroue wat nie verwag het om hul werk en familie te balanseer nie gesonder geestestoestande gehad,” het sy gesê.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.