Suid-Afrikaners móét begin herwin - Sonjica
2010-09-16 07:56
Pretoria - Suid-Afrikaners koop, gebruik en gooi weg.
“Dít kan nie langer só aangaan nie. Ons het ’n weggooi-samelewing geword. Ons moet begin herwin.”
Dié wekroep het Woensdag gekom van Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, op die land se eerste Khoro (Venda vir afvalkonferensie) wat in Boksburg gehou is.
Sonjica het gesê doeltreffende afvalbestuur is een van Suid-Afrika se belangrikste werkskeppers.
Dit is ook noodsaaklik vir ’n groen ekonomie.
Suid-Afrikaners sal ’n kopskuif moet maak. Sy het daarop gewys dat stedelike huishoudings jaarliks gemiddeld 15 miljoen ton afval oplewer en nywerhede 25 miljoen ton.
Sy is bekommerd oor Suid-Afrika se hantering van mediese afval en omdat vullisverwydering steeds nie aan alle Suid-Afrikaners gelewer word nie. Altesaam 45% mense woon in informele nedersettings, waar vullisverwydering nie plaasvind nie. “Dít is ’n klap in die gesig van ons mense dat ons nog nie aan hulle dié basiese diens kan lewer nie.”
’n Nasionale beleid vir die verwydering van afval in informele nedersettings sal binnekort in die parlement gedebatteer word.
Sy het gesê die land se mense sal “baie vinnig” die kopskuif rondom verbruik en afval moet maak.
Sy het ook gesê een van haar departement se grootste uitdagings is grondbesoedeling.
“In die verlede was dit baie maklik om grond te besoedel, want besoedelaars is nie vervolg nie.
“Die eerste keer maak Suid-Afrikaanse wetgewing nou voorsiening vir die herstel van besoedelde grond.”
Haar departement is tans besig met die opstel van ’n databasis van besoedelde grond oor die land heen.
Mcebisi Jonas, LUR vir omgewingsake in die Oos-Kaap, het gesê die land se verlede (onder apartheid) was nie bevorderlik vir die ontwikkeling van ’n maatskaplike gewete nie.
“Ons het nie ons verbruikerspatrone bevraagteken nie.
“Ons moet nou leer om nét genoeg te verbruik en minder weg te gooi.”
Mthobeli Kolisa, van die Vereniging vir Plaaslike Owerhede (Salga), het gesê dié vereniging gaan sorg dat verskillende vullisdromme oral in die land geplaas word sodat mense hul afval kan herwin.