Stygende seevlakke bedreig 16 gebiede
2010-02-04 07:44
Marelize Barnard
Kaapstad - Altesaam 16 Skiereilandse kusgebiede is geïdentifiseer as uiters sensitief vir wanneer seevlakke dalk weens klimaatsverandering begin styg.
Meer en erger storms kan dié uiters sensitiewe gebiede langs die kuslyn van 307 km teister.
Die gebiede wat gelys is in die vyfde fase van ’n omvattende studie deur die Kaapse stadsraad om kusbestuur by die bedreiging van stygende seevlakke aan te pas, sluit in:
* Tafelbaai: Blouberg- en Table View-strandfront, Milnertonstrand en die gebied tussen Milnerton en die hawe.
* Atlantiese kusgebied: Groenpunt tot by Seepunt, Glenstrand, Kampsbaai, die Bakoven-strandhuise, Kommetjie en Witsand.
* Valsbaai: Glencairn, Kalkbaai, Baden Powellrylaan, Monwabisi, Macassar, die Strand en Bikinistrand.
Volgens Darryl Colenbrander van die Kaapstadse munisipaliteit se afdeling vir strategie en beplanning, kan Kaapstad juis weens sy uitgebreide kuslyn besonder kwesbaar wees.
Die hele kwessie van klimaatsverandering gaan binnekort op ’n spesiale vergadering van die portefeuljekomitee oor beplanning en omgewing bespreek word wanneer die volledige verslag ook ter tafel gelê gaan word.
Die portefeuljekomitee is gevra om kennis te neem van die swak uitslag van die Verenigde Nasies se klimaatsonderhandelings in Kopenhagen, met die gevolg dat ’n minimum wêreldwye temperatuurstyging van 2 ºC nou feitlik ’n uitgemaakte saak is. Daar word selfs ’n “meer realistiese” temperatuurstyging van 3 ºC voorsien.
Met dié jongste ondersoek deur die stadsraad is gekyk na die akkuraatheid waarvolgens die risikogebiede bepaal word, asook die graad van die risiko.
Faktore wat ingesluit is, is:
* die rigting waarin branders breek, asook die branderfrekwensie tydens storms;
* karaktereienskappe, soos die hoogte en lengte van die branders en hoe dit deur die loop van die jaar en met verskillende weerpatrone verander;
* watter kusdele deur aanrollende branders getref kan word;
* hoe natuurlike keerwalle deur onder meer kelp gevorm word; en
* identifikasie van gebiede wat meer kwesbaar is weens ontwikkeling en menslike aktiwiteite.
– Die Burger