Studie: Wat maak iemand mooi?
2010-07-09 15:06
Sydney – Wetenskaplikes in Australië het mense gevra om verskillende liggaamsvorme op ‘n aanlyn-studie te beoordeel, met die hoop om te verstaan hoe aantrekkingskrag tussen die geslagte help om die mensdom te vorm.
Die studie het in sy eerste vier maande amper 50 000 deelnemers wêreldwyd getrek en bied reeds waardevolle insigte in wat presies ‘n vrou aantreklik maak.
“Ons het ‘n hele paar tweeslagtige vorme gehad en hulle het nie baie lank gehou nie,” het die hoof-navorser, Rob Brooks, aan AFP gesê.
“Jy het ‘n sekere hoeveelheid rondings nodig, ‘n sekere hoeveelheid liggaamsvet.”
Uitsonderlike vet en maer liggaamsvorme is verwerp, het hy bygevoeg.
Volgens Brooks is "proporsie alles."
“Jy kan nie net sê ‘n dun middeltjie is meer aantreklik, of groot borste of bo-arms is meer aantreklik nie. Dit hang regtig af of daardie eienskappe by die res van die liggaam se struktuur pas,” het hy gesê.
Deelnemers is gevra om die aantreklikheid van 120 liggaamsvorme, van baie maer tot baie oorgewig, te beoordeel. Die gewildste keuses is toe deur rekenaartegnologie saamgevoeg om hul voorkoms aan te pas.
Die grys rekenaarlywe is van hare, klere en enigiets wat hulle kultureel kan identifiseer, ontneem.
Brooks hoop dat die data hom sal help om tot ‘n slotsom te kom rakende die impak van sosio-ekonomiese status, seksualiteit en kultuur met verwysing op aantreklikheid.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP