Studie: Ouer is wel wyser
2010-04-06 16:27
Washington - 'n Onlangse studie in die VSA toon dat ouderdom wel wysheid bring.
'n Groep navorsers, onder leiding van Richard E. Nisbett van die Universiteit van Michigan, het bevind dat ouer mense wyser is as jonger mense as dit kom by sosiale probleme, en meer geredelik verskillende waardestelsels, onsekerhede en menings begryp.
Volgens die navorsing beïnvloed ouderdom wysheid "op elke vlak van sosiale klas, opvoeding en IK", het die navorsers Dinsdag in die Proceedings of the National Academy of Sciences berig.
Navorsers het 247 mense in Michigan, VSA, gewerf en in gelyke groepe tussen die ouderdomme van 25 en 40, 41 en 59 en ouer as 60 verdeel.
Deelnemers moes hul menings uitspreek oor fiktiewe konfliksituasies tussen lande.
Die mense se opinies is dan beoordeel deur 'n groep navorsers wat nie bekend was met die persoon se ouderdom of geslag nie.
'n Verdere studie het die opinies van skoliere, kerklikes en professionele mense ondersoek.
Die studie het bevind dat ekonomiese welstand, opvoeding en IK noulik verwant is aan wysheid, maar het bewys dat "akademici nie slimmer as non-akademici met 'n soortgelyke opvoeding is nie."
Die navorsers het verwag dat wysheid sou vermeerder met ouderdom, maar het berig hulle was verbaas oor hoeveel meer sosiale wysheid ouer mense as jongmense het.
- AP