Studie: Meer mans sterf aan kanker
2012-12-07 11:40
New York – Mans is nie net meer geneig as vroue om kanker te kry nie, maar hulle het ook 'n groter kans om weens die siekte te sterf, het 'n nuwe Amerikaanse studie getoon.
Navorsers, wat data bestudeer het vir kanker wat nie geslagspesifiek is nie, het gevind dat mans in elk van die afgelope tien jaar 'n groter kans gehad het om weens kanker te sterf as vroue.
Die bevindings verskyn in The Journal of Urology.
Dit beteken dat 24 310 meer mans in 2012 weens kanker sal sterf as vroue.
“Die gaping moet verklein word,” het Shahrokh Shariat, een van die navorsers, gesê.
Mans met kanker is oor die algemeen 6% meer geneig om te sterf as vroue. By mans en vroue met dieselfde kanker styg die persentasie tot 12%.
Navorsers kon egter nie bevestig waarom die verskil so groot is nie. Teorieë sluit in dat meer mans rook en drink en dat mans die dokter minder gereeld besoek as vroue, wat beteken dat hul kanker eers in ‘n meer gevorderde stadium raakgesien word.
Shariat het bygevoeg dat mans baie meer proaktief moet wees oor hulle gesondheid.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters