Studie: Lang werksure lei tot drankverslawing
2011-08-10 14:55
Wellington – ‘n Lang dag agter die lessenaar by die werk kan werkersbye ná werksure na die bottel dryf, het ‘n onlangse studie bevind..
Die studie van die Otago-universiteit in Nieu-Seeland het meer as 1 000 mense tussen die ouderdom van 25 en 30 se drinkgewoontes bestudeer en bevind daar is ‘n sterk verband tussen lang werksure en alkoholmisbruik.
“Mense wat meer as 50 ure per week werk is tussen 1.8 en 3.3 keer meer geneig om alkohol-verwante probleme te ervaar as mense wat werkloos is,” het die hoofnavorser, Sheree Gibb, gesê.
Die studie, wat binnekort in die Britse joernaal Addiction gepubliseer sal word, lui die bevindinge geld vir beide mans en vroue.
Gibb het gesê die harde werkers misbruik alkohol in ‘n poging om hul stresvlakke onder beheer te hou.
Sy het ook gesê sosiale kontak met werksvriende lei dikwels tot alkoholmisbruik.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP