Studie: Kinders veiliger in motor met oumas as ouers
2011-07-18 12:46
Chicago – Kinders mag dalk veiliger in die motor wees wanneer ouma of oupa in plaas van mamma of pappa bestuur, het navorsers tot hul eie skok bevind.
“Ons was geskok toe ons sien daar was minder beserings in ongelukke waar grootouers bestuur het,” het Fred Henretig, van die kinderhospitaal in Philadelphia in Amerika gesê.
Vorige navorsing dui motorongelukke kom meer voor soos die jare aanstap, veral na 65 jaar.
Die studie, onder leiding van Henretig, het slegs gevalle waar beserings opgedoen was ingesluit.
Navorsers het bevind kinders is 50% minder geneig om seer te kry as hul grootouers agter die wiel is teenoor ma of pa.
Henretig (64) het gesê sy eie ervaring as ‘n oupa het hom aangespoor om die studie te onderneem.
“Ek was uiters op my senuwees die kere toe ek my kleindogter moes rondry,” het hy gesê.
Die navorsers kon nie met ‘n rede vir die onverwagse bevindinge vorendag kom nie, maar hulle het gespekuleer.
“Miskien is grootouers meer op hul hoede oor die ‘kosbare passasier’ en dit kan behoedsame rygewoontes tot gevolg hê,” het hulle geskryf.
Die navorsing is in die joernaal Pediatrics gepubliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP