Studie: Arm mense word vinniger oud
2011-07-27 17:25
Glasgow – As jy gedink het die gebyt van naels oor duur paaiemente en agterstallige rekeninge gee jou plooie en grys hare, was jy ongelukkig reg.
Mense word vinniger oud as hulle ‘n lae inkomste verdien, het wetenskaplikes in Skotland bevind.
Die navorsers het die DNS van ‘n groep volwassenes noukeurig bestudeer.
Hulle het die lengte van die groep se telomere, aan die punte van chromosome, ondersoek.
Hoe korter dié afmeting, hoe ouer is 'n mens.
“Telomere werk soos die plastiek punte aan skoenveters: Hulle beskerm chromosome teen verwering,” het een van die navorsers, Paul Shields, gesê.
Oor ‘n tydperk van 10 jaar het telomere van diegene in huishoudings met ‘n inkomste laer as R166 000 met 7.7% verkort.
In dieselfde tyd het dié van huishoudings met dikker beursies slegs met 0.6% verkort.
“Ons het ‘n verwantskap tussen ekonomiese status en biologiese ouderdom bevestig,” het Shields gesê. “Ons het bewys spoedige veroudering is ‘n gevolg van armoede.”
Die navorsing is deur 17 wetenskaplikes van die Glasgow Sentrum vir Bevolkingsgesondheid en die Glasgow-universiteit onderneem.
Hul navorsing is in die wetenskapjoernaal Public Library of Science ONE gepubliseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.