Studie: Almal wen met belasting op uitlaatgasse
2012-02-16 15:01
Philadelphia – Planne in verskeie dele van die wêreld om kragaanlegte te belas vir hul uitlaatgasse is nie nadelig vir werkskepping en ekonomiese vooruitgang nie, maar voordelig, toon 'n nuwe studie deur 'n omgewingsbewustheidsgroep in die Amerikaanse staat New Jersey.
Dié studie toon New Jersey se deelname aan 'n streeksprogram om uitlaatgasse te beperk het die staat $151 miljoen (meer as R1 miljard) in die sak gebring, tesame met verskeie ekonomiese voordele, insluitend 1 800 ekstra werksgeleenthede.
Die data, wat ingesamel is deur die Environment New Jersey Research and Policy Center, dui daarop dat New Jersey nie net sy uitlaatgasse met 13 100 metrieke ton per jaar gesny het nie, maar dat volgehoue deelname aan die program inwoners se elektrisiteitsrekeninge maandeliks met sowat $25 (sowat R200) per persoon kan laat daal.
"Al het jy nie in aardverwarming geglo nie... maak die oplossings sin want daar's allerhande voordele," het David Pringle, veldtogdirekteur, gesê.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.