Straatkinders verkoop bloed op straat
2011-07-15 09:02
Phnom Penh – Straatkinders in Kambodja verkoop hulle bloed buite hospitale weens ‘n tekort aan bloed vir oortappings in die land, berig plaaslike media.
‘n Tekort aan bloedskenkings het tot die verskyning van vryskut-“bloedverkopers” gelei, het die Cambodia Daily berig.
“Ouer straatkinders, insluitend dwelmgebruikers, verkoop bloed,” het Man Phally, ‘n koördineerder vir ‘n plaaslike organisasie wat straatkinders versorg, gesê.
“Hulle staan by hospitale rond en as mense bloed nodig het, sal hulle by die kinders koop,” het hy gesê.
Die premier, Un Sen, het Donderdag in ‘n pleidooi aan studente gesê slegs drie uit ‘n 1 000 mense in dié land skenk bloed.
“Bloed is meer as geld werd,” het hy gesê.
“Geld kan goedere koop, maar bloed red lewens.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA