Steun vir invoer van swartwitpense
2010-02-01 13:21
Kaapstad – Die SA Wild Hervestigingsvereniging (WTA) het Vrydagoggend op sy algemene jaarvergadering gesê hy steun die invoer van Zambiese swartwitpense, mits die protokol aan die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) se vereistes voldoen.
Die protokol moet ook nie as ’n eenmalige insident gehanteer word nie, maar as ’n algemene protokol geld vir die invoer van alle gespletehoef diere.
Tydens ’n bespreking van die onderwerp het lede gesê die wildbedryf in Suid-Afrika word “versmoor” sonder sulke invoere.
Die Rooivleisbedryfsforum het voorlopig ’n stokkie voor die invoer gesteek met ’n dringende interdik wat Vrydag aangehoor is en waartydens daar beslis is dat geen diere die land ingebring mag word voor ’n protokol nie in samewerking met die bedryf opgestel is nie.
Die bedryf was deurgaans ongelukkig daaroor dat die Departement van Landbou, ten spyte van herhaalde versoeke, hom in die duister gehou het oor die voornemende invoer en die protokol.
Lees meer by Landbou Weekblad