'Stad moet leer uit Christchurch-ramp'
2011-11-19 07:07
Kaapstad – Die Moederstad lê op ’n verskuiwingslyn wat in 1908 ’n aardbewing veroorsaak het wat soortgelyk was aan die een wat die Nieu-Seelandse stad Christchurch vroeër vanjaar beleef het.
Só het Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbestuur, Donderdagaand gesê toe hy sowat 20 afgevaardigdes van internasionale rampbestuur-organisasies in die Moederstad verwelkom het.
Volgens Bredell is dit ’n groot pluimpie vir die provinsie dat die International Search and Rescue Advisory Group (Insarag) sy jaarlikse werksessie hier hou. Dit het Vrydag begin en duur tot Dinsdag.
Insarag bestaan uit ’n netwerk van lande wat vatbaar vir rampe is, asook lande wat hulp verleen in rampgebiede en aan stedelike soek- en reddingsoperasies deelneem.
Die werksessies sal by die rampbestuursentrum by die Tygerberg-hospitaal gehou word. Volgens Bredell sal gefokus word op die lesse wat uit die Christchurch-aardbewing geleer is.
“Weens die ooreenkomste tussen die omgewings is dit noodsaaklik dat ons uit die ervarings van die Christchurch-aardbewing leer vir ons toekomsbeplanning,” het Bredell gesê.
Hy hoop ook die Wes-Kaapse rampbestuurspan kan deel word van Insarag, wat ’n mandaat van die Verenigde Nasies het.
Volgens Bredell is die Wes-Kaap die Suid-Afrikaanse provinsie wat die ergste deur rampe getref word en vind sowat 40% van die land se rampe hier plaas.
“Ons is baie trots op die munisipale en provinsiale rampbestuur-eenhede se vermoë om weerstand te bied teen die uitdagings wat hulle gereeld moet hanteer.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger