SpongeBob gee kinders leerprobleme
2011-09-13 10:01
Chicago – Die strokieskarakter SpongBob SquarePants is in die sop na ‘n studie bevind het kinders wat slegs nege minute na sy televisieprogram kyk, leerprobleme kan ontwikkel
Die 60 kinders wat aan die studie deelgeneem het, het nege minute lank voor ‘n televisie ingeskuif en SpongeBob SquarePants of 'n ander televisieprogram, Caillou, gekyk.
Die navorsers het laasgenoemde gekies oor dié program glo minder uitdagend vir die sintuie is.
‘n Derde groep kinders het stil sit en prente teken.
Daarna het die kinders aandagtoetse afgelê en dié wat SpongeBob gekyk het, het by verre die slegste gevaar.
Vorige navorsing het reeds televisie kyk met langtermyn aandagprobleme by kinders verbind, maar die nuwe navorsing stel voor probleme kan onmiddellik manifesteer.
“Ek sal nie sulke programme voor skool of wanneer kinders moet konsentreer voorstel nie,” het die hoofnavorser Angeline Lillard van die Universiteit van Virginië in Amerika gesê.
Lillard en haar kollegas se navorsing is in die joernaal Pediatrics gepubliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP