Spoeg maar gerus op jou iPhone
2011-12-09 07:01
Bloemfontein – Om die rede agter ’n lastige hoes, koors of seer maag vas te stel, sit spoeg op jou iPhone.
Dít kan ’n werklikheid word as Koreaanse navorsers hul sin kry.
Hyun Gyu Park en Byoung Yeon Won by Korea se gevorderde instituut vir wetenskap en tegnologie ondersoek die moontlikheid van slimfone wat iemand se siekte (soos voedselvergiftiging en griep) bepaal deur die gebruiker se speeksel, bloed of urine te ontleed.
Die idee is om ’n klein druppel van die liggaamsvloeistof of monster teen ’n selfoon se raakskerm te druk wat dan deur ’n toepassing (app) ontleed word.
Dus sal siektetoestande “gediagnoseer” kan word sonder om monsters na laboratoriums te stuur wat tydrowend en duur is.
Dit kan ongelooflike voordele inhou vir onder meer mense met chroniese siektes wat gereeld gemonitor moet word, want hulle kan hul eie bloed of urine sommer by die huis toets.
Die voorgestelde tegnologie kan ook help om kwale by skole en klinieke vinnig te “diagnoseer” wat byvoorbeeld mense in staat sal stel om die verspreiding van oordraagbare siektes te stuit.
Dit behoort mense ook baie geld te spaar.
Maar mense moet nog nie nou al hul doktersbesoeke of die aftrekorder vir ’n siekefonds staak nie – die voorgestelde tegnologie is nog in ’n ontwikkelingfase.
Om meer oor hierdie tegnologie te lees, besoek die volgende webwerwe wat as bronne vir die berig geraadpleeg is: www.newscientist.com, www.forbes.com, www.thejournal.ie en www.mobiledia.com.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad