Spele in Londen bring dalk internet tot stilstand
2012-02-08 12:27
Londen – Die Britse kabinetskantoor het ondernemings in Engeland gewaarsku dat dié land se netwerk-infrastruktuur dalk nie in staat sal wees om die verwagte toename in internetverkeer gedurende die Olimpiese Spele in Londen te hanteer nie, berig Mashable.
Dié realiteit kan internetdiensverskaffers dwing om toegang tot die internet gedurende sekere tye van die dag te reguleer, en internettoegang kan op sommige tye dalk heeltemal afgesny word.
“Baie ondernemings het nog nie voorbereiding getref vir die enorme risiko's wat die Spele in Londen inhou nie,” het Kathryn Hurt, 'n bestuurder by 'n maatskappy wat kantoorruimte verhuur, aan Engeland se Guardian-koerant gesê.
“Daar is heelwat gesprekke oor moontlike verkeersopeenhopings, maar bitter min oor die potensiële verkeersprobleme op die internet.”
'n Regeringsdokument met die titel "Berei jou onderneming voor vir die Spele" waarsku “internetdienste mag stadig wees gedurende die Spele of, in erge gevalle, kan daar selfs geen diens weees nie as gevolg van 'n toename in die hoeveelhied mense wat die internet gebruik.”
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.