Speel vandag kitaar met Google
2011-06-09 09:01
Kaapstad - Google se jongste krabbel sal Donderdag waarskynlik menigte soeke na inligting in ‘n valse getokkel laat ontaard.
Die soekprogram se krabbel span kitaarsnare oor die bekende Google-embleem en stel gebruikers in staat om die snare te tokkel.
Selfs die sleutelbord kan ingespan word om ‘n A-majeur toonleer tussen die a- en k-sleutels te speel wanneer die knop aan die onderkant gedruk word en rooi vertoon.
Die kakofonie word aan kitaarlegende Les Paul opgedra.
Lester William Polsfuss, soos hy gebore is, sou vandag sy 96ste verjaardag gevier het, maar die kitaarlegende is op 12 Augustus 2009 oorlede.
Hy is bekend vir sy vindingryke gebruik van kitaareffekte en oorklanking met verskeie instrumente en klanke op ‘n enkele snit.
Hy het ook ‘n hand by die ontwerp van die alombekende Gibson Les Paul-elektriese kitaar gesit.
‘n Kliek op die Google Les Paul sal belangstellendes na blaaie oor die kitaarman neem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24