Speel Counter Strike op Osama se voorstoep
2011-05-10 13:53
San Francisco – Videospeletjie-liefhebbers wat speel-speel agter rekenaarskerms wapens op hul maats vuur kan binnekort die skote op Osama Bin Laden se voorstoep laat klap.
‘n Virtuele speelterrein met die naam fy_abbottabad, ‘n verwysing na die dorp in Pakistan waar die Al-Kaïda-leier weggekruip het, kan afgelaai word vir die aanlynweergawe van die speletjie Counter Strike.
Die realistiese virtuele weergawe van die plek waar Bin Laden deur Amerikaanse magte doodgeskiet is, is deur die gamebanana.com-gebruiker “Fletch” geskep en is Dinsdag reeds meer as 8 000 keer afgelaai.
Fletch moes glo skerp kritiek hoor, omdat die Bin Laden-gebeure nog vars in die geheue leef.
“Al wat die speelterrein met Osama in gemeen het, is die ligging,” het hy op die webwerf geskryf.
Counter Strike is vervaardig deur Valve Software van Washington en stel spelers in staat om saam met of teen terroriste te werk om sluipmoorde uit te voer of hom gyselaars te red.
“Die idee agter die terrein is dat terroriste na die huis terug gegaan het om sensitiewe inligting te vernietig voor dit gekonfiskeer raak,” het Fletch verduidelik.
Hy het ook gesê ‘n volledige, verbeterde weergawe van die terrein sal binnekort beskikbaar wees.
Kyk hier hoe Bin Laden se blyplek op die speletjie lyk.
Volg Nuus24 op Twitter.