Soogdier-breine ontwikkel vinnig danksy reuksintuig
2011-05-30 09:12
Johannesburg - Die ontwikkeling van die reuksintuig het soogdiere ’n besondere voordeel gegee en vir skielike breinontwikkeling gesorg, reken wetenskaplikes.
Daar was nog altyd vrae oor die wanverhouding tussen die grootte van soogdiere se breine en hul liggaamsgrootte.
Volgens Tim Rowe, direkteur van die Vertebra- Paleontologiese Laboratorium van die Universiteit van Texas in Austin in die VSA, het breinontwikkeling in drie stadia gebeur.
Eers was dit die reuksintuig, daarna het die aanraking of sensitiwiteit van hare gevolg en daarna die neurologiese spierkoördinasie om die reuk- en sensitiwiteitsboodskappe te interpreteer, het hy in ’n verklaring gesê wat op die webblad Eurekalert bekend gemaak is.
Volgens Rowe word die bevindings gegrond op ondersoeke van skedels van die eerste soogdiere wat sowat 190 miljoen jaar gelede ontwikkel het.
Vergeleke met dinosourusse wat destyds saam met die soogdiere bestaan het, het die soogdiere van 190 miljoen jaar gelede se neusholtes met tot 50% vergroot.
Daaruit lei die wetenskaplikes af dat oersoogdiere se reuksintuig ontwikkel en die diere daaruit ’n voorsprong gekry het as dit kom by byvoorbeeld die soek van kos en die “ruik” van die vyand.
Die tweede ontwikkeling, beweer Rowe, was die ontwikkeling van sensitiwiteit van byvoorbeeld oermuise se snorbaarde van wat hulle in staat gestel het om in donker, nou gangetjies weg te kruip en kos te soek.
Dié twee ontwikkelings het veroorsaak dat die brein moes aanpas om die nuwe “vloedgolf” van inligting te verwerk met die gevolg dat die brein vergroot het en ook voue moes ontwikkel om ’n groter oppervlakte daar te stel vir die verwerking van inligting.
Spier-brein-verbindings moes byvoorbeeld ook verbeter om te kan reageer as die vyand geruik word.
Volgens Rowe en sy groep navorsers het die ontwikkeling oor miljoene jare egter daarvoor gesorg dat die soogdier al meer dominant kon word en deesdae die suksesvolste dier op aarde is.
Volgens Rowe is die volgende stap van navorsing nou om te bepaal hoe die verskillende “onderafdelings” van die brein verder ontwikkel het, soos by byvoorbeeld vlermuise of dolfyne wat van “radar” gebruik maak om prooi op te spoor.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld