Só gons die sosiale netwerke tydens 2010
2010-12-26 09:00
Johannesburg - Vanjaar is die jaar van sosiale media.
Met ’n halfmiljard mense op die sosiale netwerk Facebook, was 2010 ’n waterskeiding wat ’n stewige grondslag lê vir die toekoms van kommunikasie, sê Jeremy Daniel, redakteur van die Suid-Afrikaanse websporingswerf Memeburn.
“Suid-Afrika het behoorlik ingehaal by die gebruik van sosiale netwerke.”
WB 2010 tel onder die voorste onderwerpe van sosiale netwerke die afgelope jaar. Op Twitter se top-10-lys staan dit tweede, met die vuvuzela vyfde en Paul die seekat tiende.
Facebook het WB 2010 as die grootste sportgebeurtenis op enige plek beskryf. Op deurslaggewende oomblikke tydens die verloop van die toernooi het tot die helfte van status-opdaterings daarmee verband gehou.
Ook soektogte op Google het gewys dit was een van die jaar se grootste gebeurtenisse wêreldwyd.
Daniel sê Suid-Afrika het hom gevestig as die tegnologiese poort na Afrika, met Google wat meen dis die land waar sosiale media op selfone die vinnigste gaan groei.
Hoewel Twitter nog nie ten volle in Suid-Afrika posgevat het nie, verwag Daniel plaaslike kletskouse sal aanstaande jaar heeltemal op dreef kom.
“As ’n ontluikende mark kry baie Suid-Afrikaners vir die eerste keer internettoegang deur middel van hul selfoon.
“Nog nooit vantevore was daar so ’n bewustheid van sosiale media onder so baie mense nie.”
Suid-Afrikaanse bemarkers het ook uiteindelik bygekom met geslaagde veldtogte op YouTube, byvoorbeeld video’s van Cell C se Trevor Noah en Liqui-Fruit se “ysberg” naby Kampsbaai.
Daniel sê tradisionele reklameveldtogte is ’n skoot in die donker, maar met sosiale media kan bemarkers nou presies vasstel waarna mense kyk en waarin hulle belang stel.
’n Tendens wat na verwagting gaan groei, is “speletjie-sielkunde” waarin webgebruikers punte verdien as hulle ’n taak afhandel, byvoorbeeld lees, aan ’n opname deelneem of inkopies doen.
Daniel glo adverteerders sal toenemend hierdie soort speel-aktiwiteite gebruik om hul produkte te bemark.
Volg Nuus24 op Twitter