Só beveg koffie velkanker
2011-08-16 12:19
Kaapstad – Daar is bewyse gevind dat koffie die risiko van velkanker verminder deur te help om beskadigde selle te vernietig wat andersins in gewasse kan verander, het ‘n Amerikaanse studie wat Maandag gepubliseer is, getoon.
Die bevindinge toon dat ‘n matige inname van kafeïen, of selfs deur koffie op die vel te smeer, waardevol kan wees om nie-melanoom-kanker, die mees algemeen gediagnoseerde van alle velkankers, af te weer.
Die navorsers het gebruik gemaak van muise wat geneties aangepas is om ‘n proteïen-ensiem, genaamd ATR, te onderdruk.
Die navorsers het daardeur getoon dat die muise daartoe in staat was om kanker af te weer, selfs wanneer hulle aan ultraviolet-ligte blootgestel is.
Vorige studies het bevind dat een koppie koffie met kafeïen per dag ATR kan onderdruk.
Die muise het uiteindelik kanker ontwikkel, maar drie weke later as normale muise, het die studie wat in die Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is, getoon.
Ná 19 weke se blootstelling aan ultraviolet-lig het die muise in die studie 69% minder gewasse gehad.
Daar was ook vier keer minder gewasse wat verder as die eerste sellaag ontwikkel het as by die kontrolegroep.
Nietemin was die beskermende effek beperk. Ná 34 weke van blootstelling aan ultraviolet-lig het al die muise kanker ontwikkel.
“As jy hulle uiteindelik lank genoeg behandel sal die muise wel kanker ontwikkel so dit is nie 100% beskerming vir ewig nie,” het Allan Conney, een van die outeurs van die studie, aan AFP gesê.
Conney en sy span het daarin geslaag om te bevestig dat hul hipotese dat kafeïen – wanneer dit ingeneem of aan die vel gesmeer word – werk om ATR te onderdruk.
Nou, meen hulle, moet meer studies gedoen word om te sien hoe dit in mense werk.
Vorige studies het getoon dat koffiedrinkers geneig is om minder gevalle van bors-, uterus-, prostaat- en kolonkanker te hê, maar dieselfde voordelige effekte word nie gesien by mense wat koffie sonder kafeïen drink nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP