Sny breëbandkostes, vra diensverskaffer
2010-05-25 16:49
Kaapstad - Die internet-diensverskaffingsvereniging (Ispa) het 'n beroep op die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okasa) en Telkom gedoen om die prys van breëband-internet te verminder.
Ispa het in 'n verklaring gesê die "Telkom-belasting" is een van die faktore wat breëband-pryse hoog hou.
"Daar is ruimte vir lynhuurkostes om geherstruktureer en verminder te word," het Ispa gesê.
Volgens Ispa moet verbruikers nie gedwing word om 'n telefoonlyn te installeer om ADSL-internettoegang te kry nie.
"Ons loof die stappe wat die Suid-Afrikaanse breëband-mark in onlangse maande vorentoe geneem het, veral met die kompetisie in die onderwater-internetkabelmark, wat die prys van bandwydte dramaties in 2010 gesny het," het Ispa gesê.
"Terwyl ons aanvaar dat Telkom en ander diensverskaffers kostes aangaan om lyninfrastruktuur te bied, glo ons dat lynhuurkostes en die prys van ADSL-internettoegang moet laer wees," het Ant Brooks, die algemene bestuurder van Ispa, gesê.
Brooks het uitgewys dat die lynhuur en hoëspoed-internettoegang (DSL) kostes vir 'n 4Mbps (megagreep per sekonde) ADSL-diens R544 per maand beloop, wat beteken hoëspoed DSL-toegang is onbekostigbaar vir meeste Suid-Afrikaners.
Dié bedrag is bereken voor die koste van bandwydte bygereken is.
"'n Groot deel van dié koste – R131 – is vir die huur van die lyn; 'n diens wat baie Suid-Afrikaners nie wil hê nie," het Brooks gesê.
Die wins op ADSL-internettoegang moet meer wees, maar dit beteken nie die prys wat die verbruiker betaal moet meer wees nie, meen Ispa.
Ispa het gesê hy sal 'n meer eweredige verspreiding van ADSL-omset tussen internetdiensverskaffers (ISP’s) en Telkom ondersteun.
– Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.