Smokkelaars met 2 ton reptiele gevind
2009-12-03 14:10
Phnom Penh – Polisie in Kambodja het beslag gelê op twee ton se lewendige slange en skilpaaie en het twee mans wat dié gediertes na Viëtnam probeer smokkel het, in hegtenis geneem.
Die mans wou glo die vrag slange en skilpaaie op die Bassac-rivier van Kambodja tot in Viëtnam smokkel. Die Kambodjaanse polisie het egter van hul planne te hore gekom en het die twee mans Woensdag gevang, net voor hulle Viëtnam kon binnegegaan.
Hulle het 1 655kg se slange, meestal luislange, en 263 skilpaaie, wat saam sowat 317kg geweeg het, op die verdagtes se boot gevind.
Volgens kol. Chan Savouen, adjunk-polisiehoof van die land se Kandal-provinsie, is dit onwettig om slange en skilpaaie te vang of jag.
"Slange en skilpaaie is skaars reptiele in ons land en dit is onwettig om hulle te jag of vang en verkoop,” het hy gesê.
Die twee Kambodjane, onderskeidelik 17 en 20 jaar oud, sê hulle is betaal om die vrag te vervoer maar ken nie die identiteite van hul werkgewers nie.
Volgens Savouen is van die reptiele onwettig in Kambodja gevang en ander uit Thailand ingesmokkel.
Viëtnam word gereeld gebruik as ‘n deurgang om onwettige wild van Suidoos-Asië na China te smokkel, waar dit as eksotiese troeteldiere of kos verkoop word.
Die reptiele is Woensdag weer in die natuur vrygelaat.
- Sapa