‘Slim’ knie-prostese maak drome nou waar
2011-10-17 08:36
Pretoria – ’n Baie gevorderde, “slim” motoriese knie-prostese, wat by ’n geamputeerde se eie loopstyl aanpas en die op- en afklim van trappe basies nes ’n normale knie kan hanteer, is nou ook in Suid-Afrika beskikbaar.
“Dit is ongelooflik hoe dié prostese jou aanhelp, jou mobiliteit uitbrei en jou energie spaar. Ná net twee dae kan ek my gewig met gemak basies volledig vanaf my gesonde been na my prostetiese been verskuif,” het Derick Schutte (20), ’n paralimpiese Springbok-spiesgooier, op die bekendstelling van die Power Knee-prostese by The Innovation Hub in Pretoria gesê.
Schutte, wat sy been drie jaar gelede in ’n motorfietsongeluk verloor en vroeër vanjaar op die wêreldkampioenskap van die internasionale paralimpiese komitee (IPC) ’n bronsmedalje in spiesgooi verower het, is die eerste Suid-Afrikaanse atleet met ’n geamputeerde ledemaat wat met die Power Knee, wat deur die Össur-maatskappy in Ysland vervaardig is, toegerus is.
“As jy wil gaan sit of trappe wil klim, moet jy die prostese bloot in kennis stel deur vir twee sekondes stil te staan,” het Schutte gesê.
“Dié proses vertraag iemand wat so aktief is soos ek ’n bietjie, maar vir normale, alledaagse gebruik is dit ’n absolute wonderwerk. Ek het nog nooit met ’n prostese geloop wat jou meer vryheid gee nie.”
Dié battery-aangedrewe prostese sal voortaan plaaslik deur die Icexpress-prostesemaatskappy versprei word.
Johan Snyders, uitvoerende hoof van Icexpress, het gister gesê die Power Knee werk met twee giroskope, vier sensors en programmatuur-algoritmes wat outomaties bereken hoe die kunsmatige knie moet beweeg. “Dit is die eerste motoriese knie-prostese wat gemaak is om normale kniefunksie aan mense wie se bene bó hul knieë afgesit is, terug te gee,” het Snyders gesê. “Ons glo dit sal vir mense met amputasies, wat droom om weer met gemak te kan gaan sit en opstaan, trappe te klim of hul kinders in hul arms te dra, ’n ongelooflike verbetering in lewensgehalte bied.”
Só ’n prostese, wat baie meer natuurlike bewegings moontlik maak, maak volgens hom rehabilitasie aansienlik makliker.
“Met hierdie tipe tegnologie sal ons mense wat hul bene verloor, binne ses weke weer terug by die werk kan kry,” het hy gesê.
Dit is egter nie goedkoop nie. ’n Nuwe Power Knee sal jou tans sowat R500 000 uit die sak jaag.
Vir meer inligting, besoek www.icexpress.co.za.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad