Slanggif help dalk met wonderkuur vir siektes
2012-09-19 13:07
Sydney – Slange se gif kan afgebreek word tot skadelose molekules, toon die uitslae van 'n nuwe studie wat Woensdag gepubliseer is – en dié kennis kan belangrike implikasies inhou vir navorsing oor siektes soos kanker.
'n Brits-Australiese studie van die gif en gene van slange het getoon dat gif nie net uit skadelose selle gevorm word nie, maar dat dit ook weer afgebreek kan word tot proteïen.
Gavin Huttley, 'n lid van die Australiese span, sê dit is die eerste keer wat gewys word hoe 'n slang se gif weer afgebreek word tot 'n skadelose toestand.
Dié proses kan baie belangrike implikasies vir navorsing oor siektes soos kanker en diabetes inhou.
Slanggif teiken gewoonlik dieselfde fisiologiese stelsels as baie menslike siektes, en Huttley meen 'n begrip van hoe gif skadeloos gestel word, kan ook help om siektes te beveg.
Sommige slange se gif teiken byvoorbeeld selle aan die binnekant van are en veroorsaak dat dit skei en doodgaan. Dié selle word ook deur sekere soorte kanker aangeval. 'n Beter begrip van hoe dié proses werk, en omgekeer kan word, kan dus van groot belang wees vir wetenskaplikes.
"Dit beklemtoon die feit dat gifmolekules, hierdie goed wat ons doodmaak, eintlik maar net afkomstig is van gewone proteïen," het Huttley, wat verbonde is aan die Australiese Nasionale Universiteit, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP