Skype nou op die iPad
2011-08-03 15:45
Kaapstad – Die video-oproepdiens Skype het ‘n weergawe van sy gratis video-oproepprogram vir die iPad vrygestel en dit is nou deur die iTunes App Store beskikbaar.
Gebruikers van die iPad sal nou waar ook al hulle Apple se tabletrekenaar ronddra, met sowat 170 miljoen Skype-gebruikers gratis in kontak kan bly.
“Die iPad se groot skerm is so te sê gemaak vir Skype,” het Skype op sy blog geskryf. “Video-oproepe kan nou op die strand, in ‘n motor of selfs op die rusbank gemaak word.”
Die iPad se twee kameras, een voor en een agter, word ook ten volle benut.
“Gebruikers kan nou die agterste kamera gebruik en die mens aan die ander kant van die oproep wys wat hulle sien,” het die inskrywing op die blog gelui.
Gebruikers sal ook teksboodskappies aan mekaar kan stuur tydens video-oproepe en teen koste oproepe na landlyne maak.
Kyk hier na 'n video van Skype op die iPad.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24