Skrywer wen Facebook-stryd
2011-11-17 07:42
New York – Die Britse skrywer Salman Rushdie, veral bekend om sy roman The Satanic Verses, het die stryd teen Facebook gewen dat hy sy middelnaam op dié sosiale netwerk kan gebruik.
Facebook het Rushdie se rekening Maandag gedeaktiveer. Die sosiale netwerk het bewys van sy identiteit geëis en sy Facebook-naam toe sommer verander na Ahmed Rushdie, soos hy slegs op sy paspoort bekendstaan.
Rushdie het op Twitter uitgevaar en gesê hy het nog nooit sy eerste naam, Ahmed, gebruik nie en uitgewys dat die hele wêreld hom ken as Salman.
Salman is sy middelnaam.
Reuters het berig toe Rushdie uitvind van dié verwikkeling, het hy verwoed begin tweet op Twitter.
Hy het Mark Zuckerberg, medestigter en uitvoerende hoof van Facebook, gevra: “Luister jy? Waar kruip jy weg? Kom uit en gee my naam terug.”
Twee uur later is sy Facebook-naam terugverander na Salman Rushdie.
Volgens die New York Times het Rushdie ook gemerk dat verskeie bekendes soos Brad Pitt, Paul McCartney en
Evelyn Waugh hul middelnaam as eerste naam gebruik.
Hy het ook getweet: “Liewe Facebook, om my te dwing om my Facebook-naam van Salman na Ahmed Rushdie te verander is soos om J. Edgar te dwing om John Hoover te word.”
“As F. Scott Fitzgerald op Facebook sou wees, sou hy gedwing wees om as Francis Fitzgerald bekend te staan?”
“Is jy aanlyn regtig wie jy sê jy is? Wie gee regtig om?” het New York Times sy lesers gevra na aanleiding van die Rushdie-herrie.
Facebook dring daarop aan dat sy lede hul regte name gebruik.
Google se sosiale netwerk, Google+, wat in September bekend gestel is, vra dieselfde. Gebruikers wie herhaaldelik nie hul eie name gebruik het nie, se rekeninge is opgeskort.
Google het egter onlangs aangekondig dat dié netwerk wel voorsiening sal maak vir aliasse. Op Twitter mag daar van skuilname gebruik gemaak word.
Die ajatolla Roeholla Chomeini het Rushdie se boek, The Satanic Verses, wat in 1988 gepubliseer is, as godslasterlik bestempel en ’n fatwa uitgereik wat Moslems aanmoedig om Rushdie dood te maak.
Die fatwa in 1989 het Rushdie gedwing om weg te kruip. Hy het eers nege jaar later weer gereeld in die openbaar verskyn.
– Beeld
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters