Skofte werk veroorsaak meer stres
2011-10-11 19:01
Amsterdam – Mense wat skofte werk of eienaardige ure op kantoor deurbring, kan veranderde vlakke in hul streshormone ervaar – veral jong volwassenes.
Die Nederlandse navorsers het gesê verhoogde vlakke van kortisol, die hormoon wat algemeen voorkom as mens stres, kan tot gewigprobleme, hoë bloeddruk, diabetes en hartkwale lei.
“Ons bevindinge bewys kortisol kan ‘n rol speel in die ontwikkeling van gewigprobleme en vergrote kardiovaskulêre risiko by mense wat skofte werk,” het die hoofnavorser, Laura Manenschijn van die Erasmus Medical Center in Rotterdam, gesê.
Die navorsers het hare van 33 skofwerkers en 89 dagwerkers bestudeer om kortisolvlakke te meet.
Hulle het bevind kortisolvlakke is aansienlik meer by skofwerkers onder die ouderdom van 40.
Die studie is in die Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism gepubliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.