Sjokolade keer dalk beroertes
2011-10-12 07:05
New York. – Lus vir sjokolade? Dit is dalk ’n goeie idee om af en toe te swig – veral as dit donkersjokolade is.
Volgens ’n Sweedse navorsingstudie in die Amerikaanse College of Cardiology se joernaal wat 330 00 vroue in oënskou geneem het, was hul gevaar van ’n beroerte-aanval al hoe laer hoe meer sjokolade hulle geëet het.
Dié resultate is egter nie ’n vrypas om dit met dié soetgoed te oordoen nie.
“Vanweë die studie se waarnemende aard kan die bevindings nie bewys dat dit sjokolade is wat die gevaar van ’n beroerte verlaag nie,” het dr. Susanna Larsson van die Karolinska-instituut in Stockholm gesê.
Sy glo wel sjokolade hou gesondheidsvoordele in, maar het gewaarsku dit kan teenproduktief wees om te veel daarvan te eet. “Sjokolade moet in matigheid ingeneem word omdat dit baie kilojoules, vet en suiker bevat. Aangesien donkersjokolade meer kakao en minder suiker as melksjokolade bevat, sal dit voordeliger wees om dít te eet.”
Larsson en haar kollegas het inligting gebruik van ’n mammografie-studie waarin die vroue in 1997 aangedui het hoeveel sjokolade hulle eet. Die vroue was tussen 49 en 83 jaar oud.
In die daaropvolgende dekade het 1 549 beroertes onder die groep voorgekom. Hoe hoër die vroue se sjokolade-inname, hoe laer was die gevaar wat hulle geloop het.
Onder dié wat die meeste sjokolade per week geëet het – meer as 45 g – was daar 2,5 beroertes per 1 000 vroue per jaar. Dit was 7,8 beroertes per 1 000 vroue onder dié wat minder as 8,9 g per week geëet het.
Wetenskaplikes bespiegel dat middels bekend as flavonoïede dalk sjokolade se invloed op gesondheid verklaar. Volgens Larsson is daar al bewys dat flavonoïede hoë bloeddruk, ’n risikofaktor vir beroerte, verminder. Navorsing moet hierdie teoretiese voordeel egter nog bewys.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters