Simkaarte op swartmark ondermyn Rica-wetgewing
2011-07-04 10:20
Johannesburg – Diensverskaffers en die regering het gesê hulle is verbaas oor die bestaan en verkoop van onwettige Rica-geregistreerde simkaarte.
Die bestaan van dié simkaarte ondermyn die Rica-wetgeweging, het Tiyani Rokotso van die departement van kommunikasie volgens Eyewitness News gesê.
Die wetgewing wat sedert verlede week van krag is vereis gebruikers se simkaart moet geregistreer wees en met ‘n identiteitsdokument en huisadres ooreenstem.
Gebruikers wat nie volgens die wetgewing geregistreer is nie, is van die netwerk af verwyder.
Richard Boorman van Vodacom het gesê hy het geglo die Rica-proses was waterdig.
“Dit is ‘n visuele proses waar die persoon se ID-dokument en hul huisadres nagegaan word,” het hy gesê.
“Daar behoort nie bedrog in die proses te kan intree nie.”
Eddie Moyce van MTN het gesê die vooraf geregistreerde simkaarte is onwettig.
“Om die simkaarte, wat reeds op iemand anders se naam geregistreer is, te verkoop is onwettig,” het hy gesê.
Lars Reichelt van Cell C kon nie die bestaan van die kaarte verduidelik nie.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.