Sigaret agter die wiel erger as rook uit uitlaatpyp
2011-06-30 11:42
Cardiff – Om ‘n sigaret te rook terwyl 'n mens bestuur is meer ongesond as om aan ‘n uitlaatpyp te suig, het ‘n vooraanstaande Britse dokter gesê.
Die Britse mediese vereniging (BMA) se openbare gesondheidkenner, Douglas Noble, het só gesê toe sy kollegas vir strenger tabak- en alkoholmaatreëls gepleit het.
Hulle het ten gunste van ‘n verbod gestem teen bestuurders wat rook terwyl hulle agter die wiel rondrits.
“Die konsentrasie van rookpartikels in ‘n motor is 27 keer hoë as in ‘n roker se huis en 20 keer hoër as in ‘n kroeg toe mens nog daar kon rook,” het Noble gesê.
“Dit sal amper veiliger wees om jou uitlaatpyp aan die kant van die motor te hê as om agter die wiel te rook as 'n mens die vrygestelde partikels in ag neem.”
Sigarette en alkohol was die hoofkwessie tydens die debat op die BMA se week lange jaarlikse konferensie in Cardiff, Wallis.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.