Seuns bereik puberteit vroeër as ooit
2011-08-19 11:59
New York – Seuns ontwikkel seksueel vroeër as ooit tevore en hoë-risiko-gedrag kom ook op ‘n vroeër ouderdom voor, het ‘n nuwe studie bevind.
Volgens die navorsing bereik seuns die hoogtepunt van hul seksuele ontwikkel 2.5 maande per dekade vroeër as in die 1700’s.
Gevolglik, het hoofnavorser Joshua Goldstein gesê, is “18 wees vandag soos om 22 te wees in 1800.”
Daar is lank reeds bewys dat meisies ook vroeër puberteit bereik as voorheen. Verskeie studies het dié bevinding met data oor meisies se eerste menstruasie bevestig.
Vir onbekende redes bereik meisies egter later puberteit as hulle ‘n broer in die huis het.
Die navorsers het gesê beter voeding en meer liggaamsvet is die grootste faktore verantwoordelik vir dié verskynsel.
Die navorsers het egter erken dit is moeiliker om ‘n presiese ouderdom van puberteit vir seuns te bepaal, aangesien meisies se eerste menstruasie as aanwyser op mediese rekords gebruik is.
Die navorsing is in die wetenskapjoernaal PLoSOne gepubliseer.
Puberteit by seuns hou grootliks verband met die hoë vlakke van die geslagshormoon testosteroon wat tydens spoedige seksuele ontwikkeling afgeskei word.
Jong mans met ‘n oorvloed van dié hormoon is meer geneig tot gevaarlike gedrag en roekeloosheid. Die rammetjies is in dié tyd ook meer geneig om hul eie lewens in gevaar te stel.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.