Sensorkameras kiek luiperd wat nog nie gesien is
2011-11-03 07:02
Stellenbosch – ’n Jong Kaapse luiperd is in die gebergtes by Grabouw waargeneem twee maande nadat drie sensorkameras langs ’n bekende bergfietsroete daar opgerig is.
Die onbekende luiperd is verlede maand by die Paul Cluver-wynlandgoed met een van die drie kameras gekiek wat die organiseerders van die Contego Wines2- Whales (W2W)-bergfietstoer aan die Cape Leopard Trust geskenk het.
Kameras is ook by die Houwhoek-gebied en Schapenberg-wynlandgoed opgerig.
Nog twee kameras sal volgende week met die Contego W2W-bergfietstoer by Oak Valley en die bopunt van die Gantouw-pas opgerig word.
Volgens Jeannie Hayward en Anita Meyer van die Cape Leopard Trust is dié luiperd nog nooit vantevore gesien nie.
In dié gebied beweeg veral drie luiperds, Sebastian, Scott en Popeye. Elke luiperd het ’n unieke kolpatroon en identikits kan só opgestel word om die getal luiperds in ’n bepaalde gebied vas te stel.
“Ons het geen rekord van die luiperd nie. Dit kan ’n jong wyfie wees, maar dit kan ook ’n mannetjie wees. Vir nou is dit moeilik om te sê watter geslag die dier is,” het Meyer gesê.
Die Cape Leopard Trust koördineer ’n grootskaalse luiperdstudie wat tans in die Boland gedoen word.
Meyer en Hayward het dié Boland-projek verlede jaar bekend gestel.
“Die kameras langs die W2W-roete gee vir ons ’n geleentheid om nuwe plekke te bestudeer – nie net vir luiperds nie, maar ook ander skugter diere.
“Behalwe vir die luiperd, het die kameras ook ander diere soos bobbejane, kolganse, ystervarke, duikers en dassies afgeneem,” het Meyer bygevoeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger