Sensorkameras help om Kaapse luiperds te kiek
2011-09-13 07:03
Stellenbosch – Vyf sensorkameras is langs ’n bekende bergfietsroete by Grabouw opgerig om die uiters skugter Kaapse luiperd waar te neem.
Organiseerders van die Contego Wines2Whales (W2W)-bergfietstoer het die kameras aan die Cape Leopard Trust geskenk. Dit is verlede week by onder meer by die Houwhoek-gebied, Paul Cluver- en Schapenberg-wynlandgoedere opgerig.
In dié gebied beweeg veral drie luiperds, Sebastian, Scott en Popeye. Elke luiperd het ’n unieke kolpatroon en identikits kan só opgestel word om die getal luiperds in ’n bepaalde gebied vas te stel.
Sensorkameras word by gebiede van CapeNature soos Jonkershoek, die Limietberg en die Kogelberg-natuurreservaat aangebring. Dit vorm deel van ’n grootskaalse luiperdstudie wat tans in die Boland gedoen word en word deur die Cape Leopard Trust gekoördineer.
Jeannie Hayward en Anita Meyer van die trust het verlede jaar die Boland-projek bekend gestel.
Hayward het in ’n verklaring gesê die kameras langs die W2W-roete gee vir hulle ’n geleentheid om nuwe plekke te bestudeer – nie net vir luiperds nie, maar ook ander skugter diere soos die ystervark en die ratel.
Hul navorsingsgebied strek van noord van die Groot Winterhoek-wildernisgebied naby Porterville tot by die Kogelberg-biosfeerreservaat in die suide.
Johan Kriegler, stigter van die W2W-roete, het Oak Valley en die bopunt van die Gantouw-pas uitgewys waar die oorblywende twee kameras opgerig is.
Sensorkameras wat in die dag en nag deur hitte en beweging geaktiveer word, stel die navorsers in staat om data oor ’n breë verskeidenheid soogdiersoorte in te samel en die Bolandse ekosisteem beter te verstaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger