Selfone veroorsaak "blindheid"
2009-10-21 02:47
Washington – Voetgangers wat op hulle selfone praat is stadiger, verander meer van rigting en is minder geneig om voor die handliggende objekte raak te sien, het ‘n studie Dinsdag getoon.
Navorsers het 317 voetgangers waargeneem soos wat hulle die vierkant van die Western Washington Universiteitskampus oorgesteek het vanaf die 114m lange paadjie.
Die mense wat waargeneem is het of op ‘n selfoon gepraat, na ‘n persoonlike musiekspeler geluister, met ‘n ander voetganger gepraat, of het alleen geloop sonder enige elektroniese toestelle.
Die navorsers het gelet op hoe lank dit hulle neem om die vierkant oor te steek, of hulle gestop het, skeef geloop of geval het, hoeveel keer hulle van rigting verander het en of hulle in ‘n ander persoon vasgeloop het, of amper in iemand vasgeloop het.
Die voetgangers is ook gemonitor om te sien of hulle die “ongewone stimulus”, ‘n hanswors in helder klere op ‘n eenwielfiets wat die navorsers net langs die paadjie geplaas het, sien.
“Mense op eenwielfietse is baie skaars op kampus-voetpaadjies,” het die skrywers van die studie, wat in die Desember uitgawe van die Applied Cognitive Psychology gepubliseer gaan word, geskryf.
Slegs 25% van die persone wat op hul selfone was het die hanswors opgemerk, terwyl meer as die helfte van die mense in die ander groepe hom gesien het.
Die feit dat mense nie die hanswors raakgesien het nie, kan nie direk gekoppel word aan die gebruik van ‘n elektroniese toestel of gesprekke met ander mense nie.
61% van die mense wat ‘n musiekspeler gebruik het, het die hanswors gesien.
Uit dié wat in ‘n gesprek was het 71% die hanswors gesien, het die studie getoon.
Die studie het gewys dat selfoon-gebruikers nie oplet wat rondom hulle aangaan nie, ‘n verskynsel wat “onopsetlike blindheid” genoem word.
“Dit beteken dat hulle meer kan mis as net die hanswors op ‘n eenwielfiets en mag dit moeilik vind om inligting wat nodig is om deur ‘n komplekse en veranderende omgewing te beweeg, raak te sien en te gebruik.”
Dit toon dat dit gevaarlik kan wees wanneer voetgangers op selfone naby motors en fietse loop, of wanneer persone hul selfoon gebruik wanneer hulle bestuur.
- Sapa