Selfmoorde styg in resessie – navorsers
2011-07-18 08:01
Johannesburg – ’n Voorlopige ondersoek toon die 2008-resessie het selfmoord in sekere Europese lande laat toeneem, maar padsterftes het verminder.
Só skryf navorsers van die Universiteit van Cambridge en hul kollegas van ander instellings in die jongste uitgawe van die mediese joernaal The Lancet.
Hulle meen die inligting wys hoe vinnig ’n finansiële krisis gesondheidsgevolge kan hê.
Die inligting van tien van die 27 lande in die Europese Unie (EU) toon selfmoord begin reeds met die vroegste tekens van ekonomiese onsekerheid toeneem.
Dit het begin styg kort voordat werkloosheid weens die krisis begin toeneem het.
Die navorsers skryf selfmoord het in die jare voor 2007 in die EU afgeneem. In 2007 en 2008 het dit met 7% in die nuwe EU-lidlande (Tsjeggiese Republiek, Hongarye, Roemenië en Litaue) toegeneem. In die ou lidlande (Oostenryk, Finland, Griekeland, Ierland, Nederland en Brittanje) het dit met 1% gestyg.
In 2009 het die selfmoordsyfer nog verder gestyg. Oostenryk was die enigste land wat ’n afname (5%) van 2007 tot 2009 getoon het. Dit is vermoedelik danksy dié land se goeie stelsel vir maatskaplike steun.
In lande wat die grootste finansiële krisis beleef het, het selfmoord meer toegeneem. In Griekeland was die toename 17% en in Ierland 13%.
Padsterftes in die nuwe lidlande het skerp gedaal, vermoedelik omdat werkloosheid daartoe gelei het dat minder mense op die paaie was. In Litaue het dit van 2007 tot 2009 met byna 50% gedaal en in Ierland met 25%.
Dit strook met bevindings in die VSA, waar padsterftes met 10% afgeneem het tot die laagste vlak tot nog toe, lui die verslag.
In Suid-Afrika is selfmoordinligting vir die afgelope drie jaar nog nie gepubliseer nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld