Selfmoord het selde net een rede, sê kenner
2011-09-30 08:00
Bloemfontein – Hy glo nie altyd die beeld wat mense na buite uitdra nie.
Ná bykans 40 jaar in die sielkunde, weet hy dat dit wat mense vir die wêreld wys, nie noodwendig is wat in hul binneste aangaan nie.
Prof. Dap Louw, ’n forensiese sielkundige van Bloemfontein, sê hoewel selfmoord vir talle mense “vreemd en onlogies” is, is dit nie altyd sy ervaring nie.
Edwin du Plessis, kliniese sielkundige en ’n dosent in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê daar is selde slegs een rede waarom mense besluit om hul eie lewe te neem.
Hoewel Louw hom oor geen spesifieke gevalle wou uitlaat nie, sê hy dat onderliggende gemoedsversteurings, soos depressie, vrugbare grond vir selfmoord skep.
Verskeie selfmoordtreurspelle het hulle in ’n kort tydperk in die Vrystaat afgespeel.
Die dood van Nicolene Hugo (51), die vrou van Dawie Hugo, hoof van die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein, het vandeesweek mense oor die land heen geskok.
Hugo is Sondag dood nadat sy op die N1 sowat 50 km buite Bloemfontein eers voor ’n vragmotor ingery het en toe sy dit oorleef, voor ’n kleiner vragmotor ingehardloop het.
Die vriendelike, positiewe vrou se laaste oomblikke van hulp- en hopeloosheid was vir talle, onder wie haar eie familie en vriende, ’n ontnugtering.
Paul Johnson (52), ’n apteker van Winburg, het op dieselfde dag sy apteek se deure agter hom toegemaak en homself daarbinne met ’n jaggeweer deur die hart geskiet.
In nog ’n voorval het Casper Badenhorst (42), ’n bekende Bloemfonteinse makelaar, homself dae tevore op sy voorstoep geskiet terwyl sy vrou, Gusta, hul jong kinders by die skool gaan aflaai het.
Louw verwys na Shakespeare wat gesê het die wêreld is ’n verhoog en elkeen vertolk ’n rol.
“Party mense sal sê dit gaan goed met hulle, maar binne hulle is dit ’n worsteling.”
Hy meen veral depressiewe mense is geneig om maskers te dra.
“Die mense wat agterbly, verkies meermale om slegs die mooi van die persoon te onthou of voor te hou, dikwels om die persoon se nagedagtenis te beskerm.
“Dit gebeur natuurlik ook dat selfs mense na aan hulle nooit agter die masker kan kom nie.”
Hy sê selfs die vroue van reeksmoordenaars is gewoonlik verstom dat hul mans die skuldiges is waarna die polisie so lank gesoek het. Dit wys hoe doeltreffend mense dikwels hul ware self vir ander verberg.
Louw sê veral in gevalle van chroniese depressie kan ’n relatief geringe emosionele ontsteltenis die sneller wees wat sodanige mense oorweldig.
“Soms is dit net die laaste strooi wat die kameel se rug breek.”
Mense is geneig om depressie te assosieer met iemand wat ooglopend ongelukkig en huilerig is. Dit is nie waar nie.
“Dit is net meer sosiaal aanvaarbaar om gelukkig te wees.”
Hy sê mense maak soms asof hulle gelukkig is om ander te mislei.
Du Plessis sê hoewel selfmoorde partymaal oënskynlik impulsief is, het die persoon waarskynlik al geruime tyd die gedagte beredeneer.
Hy sê mense pleeg selde selfmoord oor ’n enkele rede.
“Ons wil hê ’n mens moet kan sê dit of dat was die oorsaak, maar die redes is gewoonlik baie kompleks met verskeie faktore wat ’n rol speel.”
Volgens Du Plessis is die tekens in jong mense dikwels meer sigbaar: Hulle praat baie oor die dood en hoe dit sal wees as hulle doodgaan.
Soms is die tekens egter veel onduideliker.
“Ons wat in die geestesgesondheid-veld werk, weet gemaskerde depressie, soos ons dit noem, is sekerlik die gevaarlikste soort depressie, want dit is nie altyd opmerklik nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad