Seldsame bloedvatsiekte kom in soeklig
2011-11-22 07:05
Stellenbosch – Sover bekend ly net 24 Suid-Afrikaners aan die seldsame bloedvatsiekte pulmonêre hipertensie (PH), maar dié syfer kan misleidend wees.
Dié siekte, waarvoor daar geen teenmiddel is nie, het onlangs hier by ’n buitengewone ontbyt in die soeklig gekom.
PH veroorsaak onder meer hoë bloeddruk in die longe.
Dokters verwar in sekere gevalle die simptome van PH met dié van asma of brongitis.
Daar heers steeds ’n mate van onkunde oor die siekte.
Medikasie vir PH in Suid-Afrika is boonop beperk en duur.
Dit beloop tot R6 000 per maand en die Suid-Afrikaanse PH-vereniging sê die meeste mediese fondse dek dit nie.
Denneys Niemandt (52) van Kaapstad, voorsitter van die vereniging en ’n PH-lyer, het vertel hoe dokters hom oor ’n tydperk van 20 jaar verkeerd gediagnoseer het.
In een geval het ’n spesialis gesê hy moet ophou om homself “siek te dink”.
Nadat Niemandt in 2006 met erge borspyn in die hospitaal opgeneem is, het die Kaapse kardioloog dr. Jan-Peter Smedema PH by hom gediagnoseer.
“Die grootste uitdaging is dat ek altyd baie aktief was en nou die heeltyd moeg is.
“My droom is dat daar meer opvoeding oor en bewustheid van PH in Suid-Afrika sal wees,” het Niemandt gesê.
Wat is PH?
Dit is ’n seldsame siekte wat ’n erge vernouing van die bloedvate in die longe veroorsaak, het dr. Paul Williams, ’n longspesialis van Johannesburg, by die ontbyt gesê.
Die regterkantste deel van die hart word aangetas, omdat dié deel harder moet werk om bloed deur die bloedvate te pomp.
Oor ’n tydperk kan die regterkant van die hart vergroot, wat tot hartversaking kan lei.
Oorsaak:
Siektes van die hart, longe en lewer kan PH veroorsaak.
MIV, dwelms, sekere dieetpille en bloedklonte in pulmonêre are kan ook die risiko daarvoor verhoog. In sekere gevalle is die oorsaak onbekend.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger