Seksvideo met 'Hitler' skok
2009-09-09 20:40
Duitsland- 'n Duitse MIV-bewustheidsgroep word heftig gekritiseer vir 'n web-video wat begin met 'n paartjie wat besig is met die liefdesdaad in 'n woonstel en dan skielik wys dat die man Adolf Hitler met 'n groot grinnik is.
Die boodskap van die video was glo dat "MIV 'n massamoordenaar is". 'n Joodse-groep en ander Vigs-aktiviste eis nou dat die video afgehaal word.
"Dit is vieslik,” het Joerg Litwinschuh, van die Duitse MIV-ondersteuningsgroep, gesê.
Hy voel dat die advertensie vir die Duitse Regenbogen-groep bloot vir skokwaarde geplaas is en onsensitief is teenoor mense wat MIV-positief is.
Stephan Kramer, van die sentrale raad vir Jode in Duitsland, het gesê die advertensie minag slagoffers van die Jode-slagting. Volgens hom soek die vervaardigers blote sensasie en weet hulle dat “Hitler verkoop".
Maar Regenbogen het gesê dat die advertensie ook op TV en in fliek-teaters gewys sal word. Die groep sê die "massamoord"-veldtog gaan radio, musiekvideos en plakkate insluit wat die voormalige diktator Saddam Hussein asook voormalige Sowjet-diktator Josef Stalin gaan insluit.
–AP