Sekretarisvoëls is aan die uitsterf
2011-12-22 09:00
Bloemfontein – ’n Sekretarisvoël is vir die eerste keer in Suid-Afrika met ’n selfoon-opsporingsharnas toegerus.
Sekretarisvoëls se getalle het die laaste tyd drasties afneem, maar die rede hiervoor is onbekend.
Volgens die Wêreldbewaringsunie (IUCN) loop dié voëls nou die gevaar om in die natuur uit te sterf, waar hulle eens volop oor die land heen voorgekom het.
Om te bepaal hoekom hul getalle só afneem, het die Tshipi é Ntle-mangaanmynmaatskappy, die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) en ’n dierkundige, Beryl Wilson, kragte saamgespan om ’n sekretarisvoël te monitor.
Wilson het langer as drie maande gelede ’n geskikte aktiewe nes van ’n sekretarisvoël in Kimberley in die Noord-Kaap geïdentifiseer.
Sy het die kuiken wat daarin uitgebroei het intussen gemonitor. Sy het hom Tshipi gedoop.
Tshipi is onlangs met ’n opsporingsharnas toegerus en bloedmonsters is geneem om die voël se geslag te bepaal.
Dié voël is toe met ’n spesiale harnas op sy rug toegerus waaraan ’n baie klein selfoonontvangs- en sendertoestel vas was.
Die voël is toe in die nes teruggeplaas.
Die voël se bewegings sal, wanneer dit uiteindelik die nes verlaat, elke uur na ’n selfoon-toring gestuur word, waarna ’n opsporingsdatabasis deur die selfoonseine saamgestel sal word.
As die voël buite selfoonontvangs beweeg, sal die data geberg word om ’n volgende keer, wanneer daar weer ontvangs is, af te laai.
Wilson sal dan saam met ander wetenskaplikes dié data ontleed.
Wilson het gesê Tshipi se ouers sal niks vreemds agterkom nie en hulle sal aanhou om die te kuiken te voer totdat hy/sy die nes verlaat.
“Hierdie is baanbrekersnavorsing. Ons sal hierdeur só baie kan leer van sekretarisvoëls en hul habitat,” het Wilson gesê.
Die selfoon se battery sal omtrent 15 maande hou, waarna die harnas, wat spesiaal so ontwerp is, vanself sal disintegreer.
André Botha van die EWT se roofvoëlprogram het gesê aasvoëls is al suksesvol met soortgelyke harnasse toegerus, maar dié is ’n eerste vir sekretarisvoëls.
Tshipi se vordering kan op Facebook onder Tshipi the bird dopgehou word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad