Seekoei in woonstelblok doodgeskiet
2010-05-18 11:52
Johannesburg – ’n Verdwaalde seekoei wat vroeër ‘n dam by ‘n woonstelgebou naby Tzaneen in Limpopo, sy nuwe tuiste gemaak het, is doodgeskiet, het Beeld Dinsdag berig.
Amptenare van omgewingsake het Saterdag die dier doodgemaak wat vroeër in die dam by die Serala View-woonstelgebou langs die R71 gewaar is.
“Ons het eenvoudig nie die mannekrag gehad om die seekoei te vang en te verplaas nie,” het Joshua Kwapa, die woordvoerder van die provinsiale departement, gesê.
"Die seekoei was ‘n gevaar vir die publiek,” het hy bygevoeg.
Seekoeie is bekend vir hul aggressiewe geaardheid en word as een van Suid-Afrika se gevaarlikste diere beskou.
-Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.