SMS en epos binnekort uit die lug
2010-05-29 04:09
Auckland - Air New Zealand beplan om teen die einde van die jaar sommige passasiers toe te laat om SMS-boodskappe en eposse gedurende vlugte te stuur, maar geen foonoproepe sal toegelaat word nie.
Die lugredery het gesê dat hulle moontlik teen November mense op hul nuwe 777-300 vliegtuie van hul iPhones, Blackberries en GSM selfone sal laat SMS en eposse stuur.
Die nuwe diens sal kliënte ook toelaat om hul Netbooks en skootrekenaars saam met hul selfoon se breëband-konneksie te gebruik om toegang tot die internet te kry.
Volgens die lugredery gaan dié diens bekendgestel word ná terugvoer van passasiers wat gedurende lang vlugte in kontak wil bly, maar dit sal afhang van regulerende goedkeuring.
Air New Zealand het gesê dat hulle nog nie beplan om telefoonoproepe gedurende die vlug toe te laat nie.
- Reuters
Volg Nuus24 op Twitter