SKA: Nou moet geld inrol
2012-10-09 18:05
Carnarvon – Suid-Afrika het onderhandelings met buitelandse vennote begin om die wêreld se grootste en mees gevorderde radio-teleskoop, die SKA, te finansier.
Die SKA-projek sal deur Suid-Afrika en Australië gedeel word, en sal miljarde rande kos. Die kostes sal hoofsaaklik deur buitelandse vennote gedek word.
Die sentrale deel van die teleskoop sal in die Karoo gebou word, terwyl afgeleë stasies in Botswana, Madagaskar, Namibië, Ghana, Mosambiek, Zambië, Kenia en Mauritius opgerig sal word.
Die ander deel van die SKA word in Nieu-Seeland en Australië gebou.
“Natuurlik gaan ons ‘n bydrae maak, maar die meeste van die geld gaan van die lande kom wat lede is van die SKA-konsortium,” het Derek Hanekom, minister van wetenskap en tegnologie, gesê.
Bernie Fanaroff, projekdirekteur van die SKA, het Maandag aan joernaliste gesê dat onderhandelings nie vinnig afgehandel sal word nie.
“Die befondsingsooreenkoms is altyd ‘n groot kwessie; elke land moet nou bevestig watter deel van die SKA hy sal betaal,” het Fanaroff gesê.
“Almal is op die oomblik streng met hulle geld, so die onderhandelings is baie intensief.”
Behalwe vir die gasheerlande, Suid-Afrika en Australië, sluit die ander lede van die SKA-konsortium in Brittanje, Kanada, China, Indië, Nederland en Swede. Duitsland, Japan en Suid-Korea stel glo ook belang om by die projek betrokke te wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP