SA'ners praat oor Jobs se nalatenskap
2011-10-07 08:34
Kaapstad – Eenvoudig. Móói. Gebruikersvriendelik. Pret.
Dít is hoe Suid-Afrikaanse tegnologiefoendi’s die revolusionêre nalatenskap van Steve Jobs gister beskryf het.
Die vader van Apple is gister in die ouderdom van 56 oorlede ná ’n jare lange stryd teen pankreaskanker.
“Ek het baie by Jobs se leierskap geleer,” het die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, in reaksie op die nuus van sy dood gesê.
“Toe Apple amper ondergegaan het, het die maatskappy wat hom afgedank het, hom gesmeek om terug te kom.”
Volgens haar het hy Apple die leiding gegee om anders te dink.
“Hy het gesê: Begin by die jonger geslag. By dit wat hulle wil hê – selfs al is hulle nie daarvan bewus nie.
“Toe kom die iPod en toe die iPhone.”
Groot webwerwe soos Amazon, Google en Microsoft het gister spesiale Steve Jobs-skakels op hul webwerwe aangebring, wat gebruikers na Apple se webblad gelei het.
Selfs die Springbok-kaptein, John Smith, het rugby vir ’n oomblik vergeet en Jobs se uitnemendheid op Twitter gehuldig.
Leonora Redelinghuys van Touchlab, ’n eenheid van Media24 wat sagteware ontwikkel, het gesê Jobs het die vermoë gehad om iets so eenvoudig as moontlik te hou. “Hy het altyd gevra: Wat is nié nodig nie?”
Sy meen dit is baie interessant dat Jobs nooit enige van sy produkte op mense getoets het voordat dit bekend gestel is nie. “Hy het geglo mense weet nie wat hulle wil hê nie en het báie geloof in die produk gehad.”
Toby Shapshak, redakteur van Stuff Magazine, het gesê Jobs het dit vir mense makliker gemaak om musiek te koop as om dit te roof.
“Hy het aan sy produkte geglo en daaraan blý glo.
“Baie mense meen hy het pragtige produkte vir die wêreld nagelaat.
“Ek sê hy het gebruikersvriendelike produkte vir die wêreld gelos.”
Volgens Michelle Atagana, redakteur van die aanlyn-tydskrif Memeburn, is Jobs se dood ’n ongelooflike verlies vir die wêreld van tegnologie.
“Hy het die manier verander waarop ons na persoonlike rekenaars gekyk het. Macs, iPhones, noem dit...Jy wil dit uithaal en vir die wêreld wys. Dit is sexy.”
Sy glo Apple sal op Jobs se nalatenskap kan voortbou en dat hy ’n groot groep vernuwende en baie interessante mense in die maatskappy agtergelaat het.
“Sy produkte was revolusionêr. Dis ’n baie hartseer dag vir Apple. Hulle het hul skepper verloor.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger