'SA'ners drink bakkievrag drank jaarliks'
2011-11-09 22:00
Johannesburg – Die gemiddelde Suid-Afrikaner drink jaarliks die
ekwivalent van ‘n bakkie vol drank, of 20 liter skoon alkohol, het die Sentrale
Dwelmowerheid (CDA) bevind.
“As daar ‘n wêreldbeker vir drankmisbruik was, sou
Suid-Afrika nie eers hoef te geoefen het nie,” het die owerheid se voorsitter,
Ray Eberlein, aan ‘n parlementêre komitee gesê.
Die 20,1 liter is gelyk aan 1 176 blikke bier, 62 bottels
spiritus, 220 bottels wyn of 666 bokse sorghumbier.
Eberlein het gesê sowat 37% van Suid-Afrikaners “drink elke
naweek van vroeg Vrydagmiddag tot Maandagoggend en hulle bly heel naweek dronk”.
“Die ergste is Maandag, wanneer 10% van die mense op die pad
waarskynlik dronk is,” het hy bygevoeg.
Die navorsing het meer as 200 000 Suid-Afrikaners ingesluit
en het bevind drankmisbruik is uiters hoog in die land. Die misbruik van dagga en
kokaïen is ook twee keer meer as die wêreldwye gemiddeld.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24
op Twitter.