SA se ekosisteme is 'skokkend'
2011-03-22 13:46
Kaapstad – Die ekosisteme in Suid-Afrika word bedreig, en as iets nie dringend gedoen word nie, sal die land ‘n waterkrisis in die gesig staar, het ‘n navorser bevind.
“Ons ekosisteme is in ‘n skokkende toestand,” het dr. Jeanne Nel, ‘n navorser van die WNNR, aan Nuus24 by die Wêreld-waterdag 2011-konferensie in Kaapstad gesê.
Nel se opmerkings is gestaaf deur die WNNR se waterverslag en is aan die publiek bekendgemaak.
Dit wys dat ekosisteme deur ‘n verskeidenheid faktore, insluitende ontwikkeling en nywerheid, bedreig word.
“Tot 85% van ons riviermondings word bedreig,” het sy gesê.
Riviermonde vorm die oorgangsgebied tussen ‘n rivier en die see en speel ‘n kritieke rol in die bestuur van marine-ekosisteme.
Hulle is ook sensitief vir ekologiese skade van onder andere boerdery.
Nel het klem geplaas op die beskerming van riviermondings, maar sy het bygevoeg dat haar navorsing nie ‘n beleid teen ontwikkeling voorstel nie.
“Gesonde ekosisteme is verantwoordelik vir ekosisteem-dienslewering en dus gaan beskerming en gebruikmaking hand aan hand.”
Die ontwerp van opvangterreine moet die verskillende gebruike van die ekosisteem in ag neem en deur die WNNR het Nel en haar span Fepa-kaarte (waar Fepa staan vir varswater ekosisteem prioriteitsareas) ontwerp.
Dit kan gebruik word om opvangsterreine te ontwerp.
“Opvangsterreine kan vir verskeie gebruike ontwerp word en natuurlike riviere kan volhoubare gebruik ondersteun. Ons het die land se water-bestuur-gebiede met ons Fepa-kaarte geïdentifiseer. Dit kan gebruik word vir beplanning op land en beplanning van water-hulpbronne,” het Nel gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
Nuus24