SA navorsingsprojek vir hele wêreld oopgegooi
2011-09-13 08:03
Kaapstad – Wetenskaplikes van oor die wêreld heen is genooi om aan ’n “oop- toegang-navorsingsprojek” deel te neem om te probeer vasstel of stukkies van die Sediba-fossiele se vel wel versteen het.
Dié projek is pas bekend gemaak deur Lee Berger, paleontoloog van die Universiteit van die Witwatersrand se instituut van menslike evolusie. Dit volg ná sy aankondiging verlede week rakende nuwe bevindings oor Australopithecus sediba (1,977 miljoen jaar). Dit blyk dié spesie het later gelei tot die genus waaraan die mens behoort.
“Ons dink die materiaal wat ons het is gefossileerde vel, maar ons is nie 100% seker nie. Indien dit is, sal dit die heel eerste keer wees dat sagte weefsel van ’n hominied versteen het. Dit is so fenomenaal dat ons nie weet hoe om dit te bestudeer nie, en ons nooi die hele wêreld uit om ons daarmee te help,” het hy gesê
“Ons het ’n ooptoegang-navorsingsprojek begin waarin ons al die materiaal en alles wat ons vind vir almal oopstel. Hoe ons die navorsing daarop moet doen is een van die groot vrae. En indien dit nie vel is nie, wat is dit? Hou dié spasie dop, soos hulle sê.”
Berger het agesê hulle het verskeie “stukkies materiaal” gevind wat óf vel óf ander sagte-weefsel kan wees. “Ek is baie opgewonde hieroor”.
Hy glo hulle sal ook kan bewys dat wetenskap van ’n baie hoë gehalte met oop-toegang gedoen kan word. Dit is intussen asdie Malapa Soft Tissue-projek gedoop.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger