SA: Supermarkte se vleis getoets
2013-03-08 16:58
Kaapstad – Nuus24 het die vleis van verskeie handelaars geneem en by ‘n genetika-laboratorium laat toets om te kyk hoe korrek die vleisprodukte se etikette is.
Die toetse op die vleis het geen spoor van die sogenaamde eksotiese vleise gevind nie, ten spyte van vorige studies se bewerings.
“Ons studie bevestig dat die verwerkte vleis wat verkeerdelik gemerk is, algemeen in Suid-Afrika is en nie net regulasies van die etikettering van voedsel oortree nie, maar ook ekonomiese, godsdienstige, etiese en gesondheidskwessies skep,” het Louw Hoffman van Stellenbosch Universiteit se departement van veekundige wetenskappe gesê oor hul studie, wat beweer dat party voedselprodukte wat as beesvleis gemerk is, ondermeer waterbuffel- en donkievleis bevat.
Nuus24 het egter stukkies boerewors, maalvleis, hamburgers en wors van Pick n Pay, Woolworths, Shoprite en Spar vir genetiese toetse gevat. Die eindresultaat was dat die etikette redelik ooreengestem het met die inhoud van die produk.
Die uitslae het gewys dat die boerewors en die bees-hamburgers van Pick n Pay, die maalvleis en die bees-wors van Woolworths, die chakalaka boerewors en die bees-hamburgers van Spar, wat alles as beesvleis gemerk is, korrek was volgens die genetiese toetsing.
Shoprite se Championship Boerewors en bees-hamburgers het bees- en varkvleis bevat, maar dit het grootliks ooreengestem met die etiket op die verpakking.
Enterprise se polonie en I&J se bees-hamburgers is ook getoets en hul etikette was ook grotendeels korrek.
Dr MP Marx, besturende direkteur van Unistel Medical Laboratories, het wel toegegee dat ingevoerde verwerkte kosse dalk eksotiese vleis soos waterbuffel of kangaroe kan bevat, maar dat groothandelaars in Suid-Afrika nie hulself aan daardie risiko sal wil blootstel nie.
Die genetiese toetse kon egter nie die persentasies van die bestanddele vasstel nie. Dit kon ook nie vasstel hoeveel plantmateriaal, soos soja, by die vleis ingesluit is nie.
Marx het verbruikers aangeraai om mooi aandag te skenk aan die etikette op voedselprodukte en dat hulle ook op die tekstuur van die vleis moet let om te verseker dat dit eetbaar is.
Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter